GETUIENISSE

Stories Van Herstel​

Werklike mense, werklike herstel. Hoor hoe Refuah lewens in skole, gemeentes en gesinne aanraak — een storie op ’n slag.

Ek wil net sê dat die ervaring wat ek met oom Willie gehad het, ongelooflik was.

Ek het gesukkel met my emosies en gevoel dat ek alleen was, totdat oom Willie vir my gewys het dat ek nie alleen is nie. Hy is vir my soos ’n vriend vir wie ek enigiets kon sê, sonder om geoordeel te word, maar eerder gehelp te word.Hy het ook my verhouding met my familie en met die Here verbeter in alle opsigte.

Ek stel oom Willie beslis voor, want hy is ongelooflik goed in wat hy doen.

Adriaan
Persoonlik

Willie Neetling is ’n berader met ’n hart vir seuns en mans wat deur moeilike tye gaan. Hy verstaan die stryd van die lewe nie net uit boeke of teorie nie, maar uit persoonlike ervaring. Deur uitdagings, teleurstellings en lae plekke het hy self gegaan — op emosionele, geestelike en persoonlike vlak. Juis daarom kan hy met deernis, begrip en eerlikheid ander ondersteun wat voel hulle dra swaar alleen.

Sy lewe getuig daarvan dat, selfs in die donkerste tye, God altyd deurkom en nuwe hoop bring. Met geloof, wysheid en ’n passie om ander op te lig, help Willie seuns en mans om weer waarde, rigting en moed in hul lewens te vind. Hy herinner mense daaraan dat geen mens te ver geval het om weer op te staan nie, en dat daar altyd hoop en herstel moontlik is.

Carel
Persoonlik

Ons wil graag vir Willie Neethling van Refuah Pastorale Berading opreg bedank vir die waardevolle gesprek wat hy met Laerskool Bastion se graad 7-leerders kom deel het. Die tema van integriteit en bullying is op ’n baie professionele, maar ook toeganklike manier aangebied, en die leerders kon werklik goeie aanklank vind by dit wat bespreek is.

Willie het daarin geslaag om die kinders se aandag vas te vang en hulle op ’n eerlike en praktiese manier te laat dink oor hul optrede, keuses en hoe hulle ander behandel. Die gesprek was nie net insiggewend nie, maar ook baie relevant vir die uitdagings waarmee jongmense vandag gekonfronteer word.Dit was ’n verskriklike suksesvolle sessie, en ons sal Refuah Pastorale Berading beslis aanbeveel vir skole en groepe wat ’n positiewe impak op jongmense se lewens wil maak.

Mr Crous

Laerskool Bastion
Persoonlike getuienis · Voorbeeld

Willie van Refuah Pastorale Berading is sedert 2024 aktief betrokke by Hoërskool Bellville se ouer-gebedsgroep, en ons kan met groot dankbaarheid en lof van hom getuig.Hy bring ’n besondere wysheid, insig en kennis na elke byeenkoms, gegrond in sy persoonlike verhouding met Jesus Christus.

Sy bydrae tot ons skoolgemeenskap—of dit nou by ouers, leerders of die breër skoolverband is—is werklik van onskatbare waarde en diep betekenisvol.Willie is ’n persoon van opregte integriteit met ’n hart vir jongmense en ’n passie vir geestelike herstel. Sy begeerte om mense terug te lei na dit waartoe Jesus elkeen van ons roep, is duidelik sigbaar in sy bediening. Ons sien met groot opgewondenheid uit na die pad wat ons nog saam met hom en sy bediening gaan stap.

Mr H. Janse van Rensburg

Hoërskool Bellville
Persoonlike getuienis · Voorbeeld

Wie dit mag aangaan

Ons groet u in die wonderlike Naam van ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus die Here, in wie se diens ons staan. Ek is Pastoor Edmund Huggett, in diens van die AGS van Suid-Afrika, by Fontein van Lewende Water in Buh-Rein Estate. Met hierdie skrywe bevestig ek dat Willie en Karen Neethling ‘n roeping op hul lewens het. Hulle het in diens gestaan en was betrokke by ons gemeente as Jeugpastoor.

Willie het in verskeie areas in die bediening gedien, o.a. preek geleendhede, gebed, hospitaalbesoeke, mannedag-aanbieding, asook berading, baie spesifiek onder die jeugbediening. Hy het ook die nodige huweliksbevestiging saam met Pastoor Wessels behartig, asook die doop- en nagmaalbediening.

Willie se spesialiteitsbediening gedurende sy tyd by ons, was spesifiek gerig op tieners en jong mense waarvoor hy ‘n spesifieke passie en mandaat het.

Willie se toewyding en hart vir jong mense en die bediening, asook die beoefening van getrouheid en liefde vir die Here en Sy werk, was ooglopend en motiverend.

Mag hy en sy gesin die werk en die wil van die Here getrou navolg en doen in gees en in waarheid soos die Heilige Gees hulle lei. Mag hulle leef in gehoorsaamheid en doen wat die Here hulle voor geroep het om te doen. Ons bid alle seën, goedheid en guns van onse Here Jesus Christus oor Willie en sy gesin.

Pastoor Edmund Huggett & Pastoor Alwyn Fouché Presiderende Pastoor

AGS Fontein Van Lewende Water
Hoërskool · Voorbeeld

Ek wil graag vir Willie aanbeveel vir pastorale berading vir tieners en jongmense. My seun het vir Willie by die kerk ontmoet en hom beter leer ken deur die Jeug. My seun het daarna sessies by hom begin bywoon en sien hom steeds gereeld.Willie skep ’n veilige ruimte waar my seun gemaklik voel om oor sy daaglikse uitdagings te gesels. Hy ontvang nie net goeie raad nie, maar word ook geestelik bemoedig en gelei oor hoe om situasies te hanteer en dinge te verwerk.Dit gee my as ouer groot rustigheid, want tieners wil nie altyd alles met hul ouers bespreek nie.

My seun vertrou Willie en voel gemaklik om met hom te praat en raad te vra. Ek is dankbaar daarvoor, want ek weet hy word altyd in die regte rigting gelei en ondersteun.Ek kan sien hoe die sessies hom geestelik verryk en help om moeilike dinge beter te verwerk — dinge waarvan ons as ouers ons kinders nie altyd kan beskerm nie.Ek sal Willie beslis aanbeveel vir enige ouer wat graag wil hê hul kind moet ’n veilige platform hê om te gesels, ondersteuning te ontvang en geestelik opgebou te word.

Geraldine
Laerskool · Voorbeeld

Ek het as man ’n een-tot-een sessie met Willie gehad ’n paar weke gelede, en dit was vir my baie waardevol. Hy het met wysheid en insig, gegrond op die Woord, raad gegee oor areas waarin ek tekortskiet en waaraan ek kan werk.

Dit was glad nie veroordelend nie, maar eerder opbouend, genadig en bemoedigend. Dit was ’n besonder insiggewende sessie waarin ek gemaklik en veilig gevoel het om persoonlike en privaat dinge te deel. Ek het daar weggestap met nuwe perspektief, hoop en bemoediging, en ek sien opreg uit na die volgende sessie.

Gawie
Gemeente · Voorbeeld

Ons het onlangs ons eerste huwelikse pastorale beradingsessie by Pastoor Willie en sy vrou, Karen, gehad, en dit was regtig ’n baie positiewe ervaring. Ek was aanvanklik bietjie bang dat daar dalk geoordeel sou word, of dat dit eensydig mag wees, maar dit was glad nie die geval nie. Hulle het die gesprek met soveel wysheid, liefde en deernis hanteer, sonder enige partydigheid of oordeel.

Die raad en insig wat hulle gegee het, was duidelik Heilige Gees-gedrewe en gegrond en geanker op die Woord van God. Ons het veilig gevoel om oop te maak, en het die sessie ligter, bemoedig en vol hoop verlaat. Dit het vir ons baie beteken om in so ’n veilige en genadige ruimte, ons swaer en ongemaklike  kwessies, te kon deel.  Ons sien opreg uit na die volgende sessie en is dankbaar vir hulle gehoorsaamheid en hart vir mense.

Hayley
Gemeente · Voorbeeld
KOM ONS GESELS

Kom Ons Begin Die Gesprek

Gesels gerus met ons. Vul die vorm in en ons sal so gou moontlik by jou terugkom – of kontak Willie direk op die gegewe kontak nommer.

Willie Neethling
Tel: 082 387 7457
E-pos: willie@refuah.co.za

Kontak Ons